top of page
Search

Om 'n Mamma te wees...

  • Maryke van der Ryst
  • Sep 8, 2018
  • 4 min read

Ek wou nog altyd ‘n ma wees. In st. 9, toe almal begin aansoek doen vir universiteit, kon niemand verstaan hoekom ek net ‘n huisvrou wou wees nie. (Ek weet egter nou dat huisvrou nie sinoniem is vir ma-wees nie…groot verskil!!) Toe ek op 26 nog nie ‘n man het nie, was my depressie amper erger weens die feit dat ek kinderloos – eerder as manloos – gaan oud word.

Groot was die opwinding dus toe ons met ons eersteling van die hospitaal af by die huis kom. Daar was so ‘n paar vrouens (definitief in die minderheid) wat my die indruk wou gee dat ma-wees nie noodwendig lekker gaan wees nie – veral nie die eerste paar maande nie. Ek kon dit nie klein kry nie. Hoe kan jy NIE heeldag op die wolke loop en sukkel om jou glimlag in te hou as daar ‘n stukkie van jou en ‘n stukkie van jou man in jou arms le nie?

Nodeloos om te se, kry ek dit toe redelik vinnig klein :-) Nadat ek vir die eerste 3 nagte van my bloeitjie se kosbare kort lewetjie nog niks geslaap het nie, het die werklikheid my getref: Hys hier om te bly. Hierdie is nie een van daai kere waar jy kan kies jy wil dit eerder nie meer he of jy sal later reg wees daarvoor nie…hierdie is nou hoe die lewe gaan wees…vir altyd.

Slaap deprivasie is ‘n lelike ding. Ek wil glo dat daar diep binne in ons almal ‘n baie, baie lelike dier is (bloot omdat ek weier om te aanvaar ek is die enigste een!) en hierdie dier kom slegs uit wanneer jy van jou slaap beroof word. Dalk kom hy uit 3h die oggend wanneer jy vir die 7de keer uit jou warm bed moet opstaan om ‘n kind aan die slaap te sus; dalk kom hy die volgende dag uit wanneer jou man iets doen – enige iets – wat hy normaalweg doen…maar HIERDIE keer, was dit een keer te veel. Ek weet nie. Diegene van julle met so ‘n dier, sal presies weet waarvan ek praat, maar ek moet se, tydens hierdie tye van min slaap, het ek ‘n kant van myself beleef met wie ek self nie sou wou vriendinne of getroud wees nie.

Dis dan ook in hierdie tyd wat jou beenhare en toonnaels voor jou oë met rasse skrede groei, maar jy kan fisies net nie aan ‘n tyd dink wat jy kan afstaan om nog aandag daaraan ook te gee nie. Wanneer jy uiteindelik so bevoorreg is om die son te sien, kry jy skoon ‘n nies-aanval omdat daar so lanklaas so iets helders in jou oë geskyn het. So was dit met my toe ons vir ‘n langnaweek by my sussie-hulle in die Kaap gaan kuier het. My derde spruitjie was 2 maande oud en ek was maar nog baie huis-gebonde. Die weer was egter fantasties en met 2 ander kleuters in die huis, was dit redelik onregverdig om vir ‘n hele langnaweek IN DIE KAAP net in die huis te bly. Op die nippertjie word daar toe besluit dat ons die kinders gaan vat na ‘n koffiewinkel/restauranterige plekkie met diere en speelplek en plante en en en. Ek spring op van opgewondenheid dat ek bietjie gaan vars lug kry, en begin die babasak pak en ter selfde tyd gooi ek ook net ‘n oog en oor dat Pappa regkom met die ander twee se “gaan piepie” en warm goedjies inpak ens.

Ons het vissies gekyk en verskillende vreemde potplante bekyk; ons het buitentoe na die restaurant gedeelte gegaan en was nog so besig om by die heuweltjie se trappies op te klim, toe ek afkyk – hoeka om te kyk waar die volgende trappie is – en sien ek het nog my snoesige pantoffels aan.

In hierdie geval, kan mens seker ook dankbaar wees vir slaapdeprivasie, want ek het op daardie stadium nie omgegee hoe ek lyk en wie my sien en wat hulle van my dink nie… ek het sonlig gesoek en was nie vanplan om dit op te gee nie! Ons is dus deur na die restaurant, het heerlik gesit en eet; diertjies gaan kyk en speelplek toe gegaan…als in my snoesige pantoffels. En dit was langnaweek. Daar was baie mense.

Dan was daar ook die kere wat mens na sleutels gesoek het en dit buite in ‘n swartsak gekry het (genadiglik) …aangesien die toonbank nie meer hoog genoeg is om buite die bereik van klein kindertjies te wees nie; waar mens jou stewels aantrek en dan maak jou voete kennis met ‘n klomp speelgoed binne in die stewels; waar die tissue boks leeg op die bedkassie staan en al die tissues wat in hom was, gestrooi oor die kamervloer lê; waar jou kind na jou kom en skerp ruik na toiletseep…en jy dan presies weet hoekom hy vir so lank so stil was; waar jy al die kinders inder haas uit die bad moet haal en dan ‘n duikboot-jag moet doen…die lys is lank.

Ek kan dus met alle eerlikheid se ek het nog nooit op wolke geloop nie. En dit was al vele kere baie maklik om my glimlag in te hou. Maar net nou die dag gaan ons as ‘n gesin Checkers toe en soos gewoonlik is daar ‘n lys en die lys moet so gou as moontlik “gesmoor” word. Dus is Pappa verantwoordelik vir die een helfte van die goed op die lys en Mamma sorg vir die res (want volgens my man loop ons mos met 3 “ticking time bombs” en die tyd mag nie op ons uithardloop nie – so ons moet inhardloop en net dit doen wat ons gekom het om te doen). Ek het my helfte van die lys gaan “smoor” en Heinz het sy helfte behartig met al 3 kinders in die trollie saam met hom. Dalk sal net ‘n ma dit kan verstaan…of dalk sal net ek dit kan verstaan, maar die gevoel wat ek gekry het toe ek terugstap om my gesinnetjie in die ry by die kassier te gaan ontmoet, en ek kom so om die draai en sien 3 orrelpypies in ‘n winkeltrollie, wie se gesiggies tegelyk ophelder en skree “MAMMA!” - ek reken daai gevoel is beter as om op wolke te loop.

Dis ‘n voorreg, en dis elke dag en ding die moeite werd.

 
 
 
Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page